Opsomming


Published in Attacks on Farms and Smallholdings: An evaluation of the rural protection plan


In die drie jaar tussen Januarie 1997 en Desember 1999 is 361 mense in meer as 2 000 aanvalle op plase en plotte in Suid-Afrika vermoor. Die meeste van die aanvalle en moorde het in Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal voorgekom.

Op versoek van die destydse president, Nelson Madela, is ‘n beskermingsplan vir landelike gebiede teen die einde van 1997 van stapel gestuur. Die doel met die plan was om alle rolspelers wat betrokke is by landelike veiligheidsake aan te moedig om op ‘n gekoördineerde wyse saam te werk, en betrokke te raak by gemeenskaplike beplanning, aksies en monitering om misdaad te bekamp.

Laat in 1999 is ‘n navorsingsprojek onderneem om die doeltreffendheid van die landelike beveiligingsplan te evalueer, en om beter begrip vir die aard van misdaad op plase en plotte te verkry. Die navorsing is in spesifieke dele van die drie bovermelde provinsies wat die meeste deur misdaad geteister word, onderneem.

Daar is bevind dat die landelike beveiligingsplan se doeltreffendheid om aanvalle op plase en plotte te verhoed, nie in alle gebiede dieselfde was nie. In landelike gebiede waar plase ver verwyderd is van die naaste polisiestasie of weermagbasis het die plan se sukses hoofsaaklik van sterk gemeenskapsdeelname afgehang.

In die geval van ‘n plaasaanval is dit slegs die naaste bure van die boer wat die slagoffer van so ‘n aanval is wat vinnig genoeg kan reageer om die oortreders te vang. Teen die tyd wat die veiligheidsmagte by die plaas opdaag waar so ‘n aanval plaasgevind het, het die oortreders meestal lankal gevlug.

Aangesien die polisie en die weermag nie oor ‘n vinnige reaksiekapasiteit in die land se landelike gebiede beskik nie, is dit van die grootste belang dat boere en plotbewoners — deur middel van die georganiseerde struktuur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se kommandostelsel of die polisie se reservistemag — self groter verantwoordelikheid aanvaar vir hulle eie en hulle gemeenskap se veiligheid.

Die polisie se belangrikste bydrae tot die bekamping van aanvalle op plase en plotte is deur sy speurdiens en intelligensiefunksies. In sommige gebiede funksioneer die polisie se speurdiens goed en baie oortreders wat plase en plotte aangeval het, is aangekeer en deur die howe veroordeel. Daar is egter ander gebiede waar die polisie swak vaar in dié verband. Dit is dikwels die geval waar oortreders wat aanvalle op plase en plotte uitvoer van ‘n ander gebied kom as waar die aanval plaasvind, en plaaslike speurders moet dus met kollegas in ander dele van die land saamwerk. Intergebiedsamewerking in die speurdiens moet verbeter word.

Een van die belangrike tekortkominge van die landelike beveiligingsplan is dat die polisie — en die veiligheidsdienste in die algemeen — oor ‘n swak kapasiteit beskik om intelligensie te versamel. Dit is veral die geval in landelike informele vestigingsgebiede en plakkerskampe waarvandaan aanvalle op plase en plotte dikwels beplan word, en waarheen oortreders vlug nadat ‘n aanval geloods is. Die veiligheidsdienste behoort hulle vermoë om intelligensie te versamel, te verbeter sodat hulle in ‘n beter posisie is om aanvalle op plase en plotte te voorsien en te verhoed

Die landelike beveiligingsplan is ‘n goeie meganisme waardeur veiligheids-inisiatiewe vir die land se plase en plotte gedryf en gekoördineer kan word. Daar is egter aspekte van die plan wat verbeter kan word. Hoewel die plan ‘n gesonde raamwerk vir landelike beveiliging bied, moet die individuele komponente van die plan aangepas word om in plaaslike behoeftes te voorsien veral in die lig van die realiteit van plaaslike kapasiteit. Dit is van die uiterste belang dat die plan deur plaaslike gemeenskappe aanvaar moet word. Sonder hulle deurlopende deelname aan die plan sal die doeltreffendheid daarvan beperk bly.